Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 07 JANUARIE 2007

U luister na amateurradiostasie ZS6SRL van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. U kan ook na hierdie oggenduitsendings luister deur per Echolink met ZS6FCS te koppel of na www.zs6mrk.org te gaan en die daar aangeduide skakels te volg. Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van die SARL se webwerf nl. www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Hierdie uitsending word gedoen deur George, ZS6NE, vanuit Pretoria met herleidings op 14,235, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 MHz in die Pretoria gebied. (Ander nuuslesers verander soos nodig).

STIL SLEUTEL

Dit is met diep leedwese dat die Raad van die SARL die afsterwe van Henry Fourie, ZS4W, van Kragbron op 1 Januarie aankondig. Ons betuig on innige meegevoel aan sy vrou Annatjie, seun Barney, ZS4U, familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

DATUM EN SENTRA VIR EERSTE KLAS B RAE IN 2007 AANGEKONDIG

ITU VERKIES NUWE LEIERSPAN

AANSPRAAK GEMAAK OP NUWE 2 m AMA WêRELDREKORD

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir die volledige berigte oor die voorgenoemde items, sowel as ander belangrike en interessante berigte.

KLAS B RAE

Vir die ZU-lisensie vind die eerste eksamen in 2007 op 1 Maart 2007 in die volgende sentrums plaas: Kaapstad, George, Port Elizabeth, Oos-Londen, Durban, Pietermaritzburg, Bloemfontein, NARS, Pretoria, Nelspruit, Polokwane en Kimberley/Upington. Die eksamengelde is R217-00, wat R167-00 vir OKOSA insluit, wat die koste van die aansoek om 'n lisensie sowel as die lisensiegelde vir die eerste jaar dek.

Die sluitingsdatum vir inskrywings vir die Maart 2007 Klas B RAE is 1 Februarie 2007.

Die SARL versoek graag klubs of individue betrokke by RAE-sentrums, waar die klas B RAE op 1 Maart geskryf gaan word, om die betrokke sentrum so spoedig moontlik te registreer. Bykomende sentra kan gereël word indien daar 10 of meer kandidate is. Die registrasievorm is op die webblad van die SARL by www.sarl.org.za beskikbaar. Tot dusver het slegs Middelburg in Mpumalanga as RAE-sentrum geregistreer.

Die volgende twee items is uit die IARU-nuus verkry.

ITU VERKIES NUWE LEIERSPAN

1 500 afgevaardigdes van die lidlande van die Internasionale Telekommunikasieunie (ITU) het die 17de ITU gevolmagtigde konferensie (Plenipotentiary Conference, afgekort Plenipot) in Antalya, Turkye, bygewoon waar dit op 24 November verlede jaar afgesluit het. Die uiteindelike gesagsliggaam van die ITU, die Plenipot, wat elke 4 jaar vergader, is die geleentheid vir die verteenwoordigers van die ITU-ledestate om voorgestelde wysigings aan die organisasie se grondwet en konvensies te oorweeg, strategiese en finansiële planne te aanvaar en die senior bestuurspan te verkies.

Die volgende persone is tot die senior bestuurspan verkies:
Dr. Hamadoun I. Touré van Mali as Sekretaris-Generaal vir 'n vier jaar dienstermyn. Touré het vir twee termyne as direkteur van die ITU se Telekommunikasieontwikkelingsburo gedien. Houlin Zhao van China, wat vir twee termyne as Direkteur van die Telekommunikasiestandaardiseringsburo gedien het, is as Adjunk Sekretaris-Generaal verkies. Die Direkteur van die Radiokommunikasieburo, Valery Timofeev, van die Russiese Federasie, is sonder teenstand herkies. Sami Al Basheer van Saudi Arabië is as Direkteur van die Telekommunikasieontwikkelingsburo verkies en Malcolm Johnson van die Verenigde Koninkryk is as Direkteur van die Telekommunikasiestandaardiseringsburo verkies. Die nuutverkose bestuurspan het op 1 Januarie vanjaar met hul pligte begin.

Na die verkiesing het Touré aan die konferensiegangers gesê dat hy met deursigtigheid, objektiwiteit en kragdadigheid te werk sal gaan ten einde sy twee hoofdoelwitte nl. om die digitale skeiding te elimineer en te verseker dat die kuberruimte meer betroubaar raak.

Een van die suksesvolle kandidate vir die 12 poste op die deeltydse Raad vir Radioregulasies, was Robert W. Jones, VE7RWJ. Bob het vir twee termyne as Direkteur van die Radiokommunikasieburo gedien. Na sy uittrede uit daardie pos, was hy 'n konsultant vir die IARU tydens die 2003 Wêreldradiokommunikasiekonferensie.

Terwyl baie afgevaardigdes insien dat die woord "telekommunikasie" onvoldoende is om die totale omvang van die organisasie se verantwoordelikhede in te sluit, bly die naam van die ITU onveranderd voortbestaan. Desnieteenstaande kan verwag word om meer verwysings na die afkorting ICT vir "information and communication technologies" te sien en te hoor. Tydens sy afsluiting het die konferensie se voorsitter Dr. Tanju Çataltepe van Turkye genoem dat die ITU se gevolmagtigde konferensie kennis geneem het van die baie ontwikkelings wat plaasgevind het in 'n snelveranderende telekommunikasie- en ICT-omgewing wat betekenisvolle implikasies vir die ITU sal hê. Dit stel riglyne vir die ITU as die toonaangewende interregeringsorganisasie in ICT, om die volgehoue ontwikkeling van telekommunikasie- en ICT-netwerke te bevorder sodat mense oraloor ingesluit kan word in die ontluikende inligtingsgemeenskap en voordeel kan trek uit sy ontsaglike potensiaal.

Die IARU se Visepresident, Tim Ellam, VE6SH, wat die eerste helfte van die konferensie bygewoon het, het Touré persoonlik namens die IARU, en sy ledeverenigings, gelukgewens. Ellam sê Touré het aan hom gesê dat dit belangrik is dat die IARU voortgaan met sy goeie werk in die ITU en bygevoeg het dat die IARU in die toekoms 'n belangrike rol het om te vervul.

Die IARU se internasionale ko-ordineerder vir noodkommunikasie, Hans Zimmermann, HB9AQS/F5VKP, het die tweede helfte van die konferensie bygewoon. Hy rapporteer dat die konferensie 'n besluit aanvaar het ter ondersteunung van die Tamperekonvensie in verband met die voorsiening van telekommunikasiehulpbronne vir rampverligting en reddingsbedrywighede. Besoek vir inligting oor hoe die Tamperekonvensie met amateurradio betrekking het.

AMATEURRADIONOODKOMMUNIKASIE AAN PLENIPOTAFGEVAARDIGDES GEDEMONSTREER

Die IARU se ledevereniging van Turkye, Telsiz ve Radyo Amatörleri Cemiyeti (TRAC), het 'n demonstrasiestasie en uitstalling van amateurradionoodkommunikasiemoontlikhede vir afgevaardigdes na die ITU-Plenipot gereël. TRAC se goed toegeruste noodkommunikasievoertuig is na Antalya geneem en op die hotelgronde neffens die konferensielokaal geparkeer. Die stasie is onder die spesiale roepsein TC4PP bedryf en het met slegs 100 W en 'n draadantenna wêreldwyd kontak gemaak. Die nuutverkose ITU-Sekretaris-Generaal, Touré, en ander ampsdraers, sowel as baie afgevaardigdes van baie wêrelddele, het die stasie besoek.

Hans Zimmermann, HB9AQS/F5VKP, die IARU se internasionale ko-ordineerder vir noodkommunikasie, rapporteer dat TC4PP aktief was in die IARU Streek 1 se saamkomparty op die lug op 18 November en dat kontak gemaak is met 18 hoofkantoorstasies van die deelnemende streek 1 ledeverenigings.

Hierdie was die derde keer sedert 2000 dat TRAC gevra is om so 'n uitstalling te organiseer tydens 'n ITU-gebeurtenis in Turkye. Veels geluk aan die TRAC vir nog 'n taak welgedaan.

AANSPRAAK GEMAAK OP NUWE 2 m AMA WêRELDREKORD

Van die WIA is verneem dat maankaatsentoesiaste in Nu Seeland en Portugal op 'n nuwe rekorddistansie vir 'n kontak via aard-maan-aard aanspraak maak.

Die kontak op 6 Desember, dmv. digitale JT56B-modus, was tussen Nick Wallace, ZL1IU, in Nu Seeland (RF64vr) en Joe Kraft, CT1HZE/DL8HCZ, (IM57nh) in Portugal.

Die ZL-amateur het 500 W in 4-by-12 Yagis gebruik, terwyl CT1 1,5 kW en 4-by-11 Yagis gebruik het.

Die AMA-kontak het oor 'n afstand van 19 658 km oor die aarde gestrek.

KYK UIT VIR VI3JAM TYDENS DIE 21STE AUSTRALIESE SCOUT JAMBOREE

Die 21ste Australiese Scout Jamboree (AJ2007) is tans by Elmore in Victoria aan die gang en duur tot tot 13 Januarie 2007.

Die Scout Radio and Electronics Service Unit het reëlings getref vir die opstelling van 'n amateurradiostasie met die spesiale geleentheidsroepsein VI3JAM. Dit is die eerste Australiese amateurradiogebaseerde herdenking van die eeufees van die bestaan van die Scouts.

'n Tegnologies gevorderde stasie word verskaf, sowel as relevante inligting om 'n belangstelling in ons stokperjie te bevorder onder die sowat 13 000 deelnemende Scouts.

Icom Australië borg al die amateurradiotoerusting vir die stasie. Daar is antennes wat VI3JAM in staat sal stel om op feitlik alle bande aktief te wees, asook op Echolink, IRLP en SATV.

Spesiale QSL-kaarte is gemaak en die Australiese amateurradiovereniging asook Amateurradio Victoria het bemarkingsmateriaal geskenk.

VI3JAM sien uit na baie QSO's tydens die feesvieringe. Bande en frekwensies as volg:

80 m - 3,590;
40 m - 7,070;
20 m - 14,200;
10 m - 28,590.

VOORPLANTINGSVERSLAG

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag tot baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld wissel van stil tot lae stormvlakke gedurende 16 tot 19 Januarie. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 15 wees.

20 m en 40 m is die beste keuse vir DX met moontlike 20 m openinge vanaf 07:00 SAT en weer om 14:00 na die Ooste. Vanaf ongeveer 16:00 is daar 'n moontlike kort 15 en 20 m openinge na Europa. Vanaf 18:00 is daar moontlike 15, 20 en 80 m openinge na die Verenigde State. Vir die morsekode- en digitale entoesiaste kan dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

08 Januarie 2007 - NARS open;
13/14 Januarie 2007 - Hunting Lions in the Air;
19/21 Januarie 2007 - PEARS Nasionale BHF/UHF-kompetisie;
27 Januarie 2007 - Magalies Vlooimark;
3 Februarie 2007 - ERB Vlooimark;
16 Februarie 2007 - Sluitingsdatum vir nominasies vir Tinus Lange 7066 Tegniese Uitmuntendheidstoekennings;
1 Maart 2007 ZU-lisensie-eksamen;
14 April 2007 - SARL-AJV.

Sarlnuus maak staat op nuusitems wat vir radioamateurs van belang is en deur klubs en individue ingestuur word. Die enigste manier om te verseker dat u berigte Sarlnuus bereik is om dit in die korrekte plek op die webwerf van die SARL nl. www.sarl.org.za/newsinbox.asp te plaas nie later nie as die Donderdag wat die bulletin voorafgaan. Dit sal waardeer word indien u dit in Afrikaans sowel as Engels sal doen.

Die SARL nooi ook alle luisteraars om elke Sondagoggend om 10:00 SAT na die program Amateur Radio Mirror International op 145,750 MHz in die Pretoriagebied, en op verskeie ander herhalers, en met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 695 kHz, te luister. Oudiostrome is ook vanaf www.zs6mrk.org sowel as per Echolink vanaf ZS6FCS, soos vir hierdie bulletin, beskikbaar. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Telkom en Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel en vertaal is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003